Vermeende haarpruikdief in hof, drie nog op vrye voet

Een van die vier vermeende haarsalon-rowers, Denis Simon Hamukwaya, het in die Windhoek-landdroshof verskyn en bly in aanhouding. Volgens die Windhoekse Stadspolisie het die vier mans op 23 Mei net na 12-uur die middag ‘n haarsalon in Windhoek ingegaan, die personeel met ‘n vuurwapen aangehou en Brasiliaanse haarpruike ter waarde van 200 000 Namibiese dollar en 1 500 dollar in kontant gesteel. Die verdagtes het van die toneel gevlug in ‘n rooi Volkswagen Polo met vals nommerplate, wat deur die winkel se kringtelevisiekamera vasgevang is. Die polisie het deur ‘n intelligensie-geleide operasie daarin geslaag om Hamukwaya in Oshakati op te spoor en in hegtenis te neem. Die drie ander verdagtes is steeds op vrye voet. Die stadspolisie doen ‘n beroep op die publiek om inligting te verskaf wat kan lei tot die arrestasie van die drie verdagtes.