Verligting in Benede Oranje soos watervlakke daal

Die Namibiese Hidrologiese Diens sê daar is verligting in die Benede Oranje nadat Blouputs se vlakke gedaal het tot 2,94 meter. Die watervlak was op 28 Februarie op 8,85 meter aangeteken. Meeste van die damme in die opvangsgebied in Suid-Afrika stel steeds water vry, maar vlakke het gedaal. Die Vaaldam is 102 persent vol en net minder as 55 kubieke meter water per sekonde word vrygestel deur vyf kleppe. Al die sluise is toegetrek. Die Bloemhofdam is amper 105 persent vol en stel 200 kubieke meter water per sekonde vry terwyl die reuse-Gariepdam 98 persent vol is met 643,55 kubieke meter water wat per sekonde vrygestel word. Intussen is die Zambezi-rivier by Katima Mulilo op 5,08 meter met vloei van 3 152 kubieke meter water per sekonde. Die diens waarsku weer oor die rivier se vloedvlaktes wat oorstroom en maan inwoners om versigtig te wees. Die vloei van die Kunene by die Ruacana hidroëlektriese aanleg is uiters laag vir die tyd van die jaar en is op net minder as 80 kubieke meter per sekonde gemeet.