Verhore vir vergoeding na MH370-ramp begin

‘n Hof in Beijing het vandag begin met vergoedingsverhore vir die Chinese familielede van passasiers aan boord van Malaysia Airlines-vlug MH370, wat byna ‘n dekade gelede onder vreemde omstandighede oor die Indiese Oseaan verdwyn het. Meer as 150 Chinese passasiers was op die vlug wat op 8 Maart 2014 onderweg van Kuala Lumpur na Beijing verdwyn het. Maleisiese ondersoekers het nie die moontlikheid uitgesluit dat die vliegtuig doelbewus van koers af gehaal is nie, en wrakstukke wat vermoedelik van die vliegtuie afkomstig is het langs die kus van Afrika en op eilande in die Indiese Oseaan uitgespoel. Die families dagvaar Malaysia Airlines en Rolls Royce wat die enjins vervaardig het. Daar word berig die families van 40 oorledenes eis tussen 1 en 11 miljoen Amerikaanse dollar elk.