‘Vergeet van die Bybel, wat is jou plan?’
Namate die verkiesing in November naderkom, verwys politieke partye toenemend na die Bybel in hul veldtogte. Hamunyera Hambyuka, Swapo-LP, het onder andere by ‘n saamtrek in Rundu aan Swapo-ondersteuners gesê dat versuim om vir Swapo en sy kandidaat, Netumbo Nandi-Ndaitwah te stem, hulle van beide die hemel en die hel sal uitsluit. Namibiese politieke kommentator dr. Henning Melber, navorsingsdirekteur by die Scandinavian Nordic Africa Institute, het op sosiale media gesê dit blyk dat verwysings na en aanhalings uit die Bybel die mees prominente veldtogvoertuig is, in die afwesigheid van enige samehangende program om die maatskaplike uitdagings en ongeregtighede aan te spreek. Kosmos 94.1 Nuus het met Melber gesels, wat meer insig oor sy plasing gee.
Melber sê politieke partye moet die publiek inlig oor hulle strategieë oor verskeie kwessies, in plaas daarvan om hulle na gebed of die Bybel te wend.