Verbysterende syfers oor veediefstal…
Vee ter waarde van 198,3 miljoen Namibiese dollar is in die afgelope vyf jaar in Namibië gesteel waarvan amper 70 miljoen dollar se diere teruggevind is. Agriforum berig dat amptelike syfers van die Namibiese polisie wys veediefstal het die afgelope vyf jaar bykans verdubbel, met 1 489 sake wat in 2019 aangemeld is en 2 786 in 2023. Terwyl die grootste toename in veediefstalsake tussen 2019 en 2020 voorgekom het neem sake jaarliks met gemiddeld 17,2 persent toe. Die meeste sake, 268, is in die Otjozondjupa-streek aangemeld, gevolg deur die Zambezi, op 254, Khomas met 230, Kunene, 228, en Omaheke op 203. In meer as 90 persent van die sake is Namibiërs in hegtenis geneem, terwyl 4 persent Zambiërs is en 3,8 persent Angolese is.