Verbruikers moet mooi kyk na vervaldatums

Die Ombud vir Verbruikersgoedere in Suid-Afrika doen ‘n beroep op verbruikers om vervaldatums vir voedsel na te gaan voordat hulle dit koop. Dit volg na talle klagtes in stedelike gebiede oor items wat verval het. Die uitvoerende hoof Queen Munyai sê landelike verbruikers, wat dikwels beperkte keuses het, is veral kwesbaar vir misleidende praktyke. Die sluit in die plaas van plakkers oor Beste Voor-datums of die verdoeseling van vervaldatums. Sy vra steun vir pogings deur die Nasionale Verbruikerskommissie om die verkoop van goedere wat verval het te keer en wil verbruikers bemagtig oor hulle regte.