Verbod op pluimvee-invoere van Nederland, Denemarke weens voëlgriep

Die direktoraat van veeartsenydienste in die landbouministerie sê die invoer en in transito-vervoer van lewende pluimvee, voëls en rou pluimvee-produkte vanuit Nederland en Denemarke is opgeskort as gevolg van ‘n uitbreking van voëlgriep, HPA1, in daardie lande. Dr. Albertina Shilongo, die hoof van die direktoraat, sê in ‘n verklaring die eerste gevalle is reeds ‘n maand terug op 11 Julie in Denemarke en 24 Julie in Nederland bevestig en die verbod is dus geldig vanaf onderskeidelik 28 Junie en 11 Julie. Alle rou pluimvee-produkte met dié datums op hul verpakking sal teruggestuur word na die twee lande of sal vernietig word op die invoerder se koste. Sy sê vraghouers word as een besending geag en sal nie gesorteer word volgens datums op verpakking in die houer nie, en ook dat alle invoer- en in transito-vervoerpermitte met onmiddellike effek gekanselleer is.