Veldbrand by Seeis geblus

Bevestiging is van dr. Rudie van Vuuren van N/a’an ku sê Lodge ontvang dat die verwoestende veldbrande noord van Seeis onder beheer is. Hy sê die reën laas nag het ook gehelp. Van Vuuren sê slange en skilpaaie het doodgebrand, maar hy het nog nie karkasse van grootwild gesien nie. Volgens die woordvoerder van die landbou-unie, Tanja Dahl, het die boere vir die laaste dae agtereenvolgens brande geblus. Sy sê die meeste van hulle is doodmoeg, uitgeput en moedeloos. Dahl sê hulle gee die boere kans om te herstel, alvorens data ingewin word oor die totale omvang van die skade van die reuse-veldbrande.