Veediefstal in Zambezi bly reuse-uitdagingJune 16, 2023
Veediefstal in die Zambezi-streek duur voort en is weer in die nuus met die raadslid vir Kabbe Noord, Bernard Sisamu wat 12 verse verloor het. Hy het aan plaaslike media bevestig dat twee van sy beeswagters sedert Februarie agter tralies is omdat hulle sy bees verkoop het, vir 500 Namibiese dollar. Volgens Sisamu is dit baie maklik om vee te steel in die streek en na Zambië te verskuif. Hy sê hulle maak die krale snags oop en vat die diere per kano’s landuit. Daar is in Mei berig dat altesaam 824 beeste ter waarde van amper 5 miljoen Namibiese dollar tussen April 2022 en April vanjaar gesteel is. Kenneth Simbwaye, koördineerder van ondersoeke, sê die polisie het daarin geslaag om 367 vee terug te vind. Die meeste diere is in Namibië teruggevind. Maar, boere het ook ‘n plig. Die polisie sê boere is nalatig, merk nie hul diere nie, dokumenteer hulle nie en stel ongereguleerde huiswerkers en veewagters aan. Diere word ook sonder toesig toegelaat om te wei.