Vandag is 87 persent van die wêreld se volwassenes geletterd, skat Unesco, maar digitale geletterdheid het lees verander.
Wanneer jy ‘n boek op papier lees, kan jy heeltemal in die ervaring wees en honderde bladsye se nuanse absorbeer wat die wêreld se kompleksiteit begin vasvang. Aanlyn, sê Maryanne Wolf van die Universiteit van Kalifornië Los Angeles, is ons besig om te “vluglees, skandeer en scroll”. Om te probeer diep lees op jou foon is so moeilik soos om tennis met jou foon te speel. Onlangs het ‘n slim 11-jarige gesê: Ek mors tyd op boeke. Hy het meer inligting vinniger van Wikipedia geabsorbeer. Hy het ‘n punt beet. Maar digitale lesers absorbeer ook meer verkeerde inligting soos fopnuus. En hulle absorbeer selde genuanseerde perspektiewe. Kenners katalogiseer die verwoesting van digitale lees as volg: “Onlangse studies van verskillende soorte dui op ‘n afname van kritiese en bewuste lees, stadige lees, nie-strategiese lees en langvormlees.” In ‘n 2021 internasionale opname het 49 persent van studente saamgestem dat “ek lees net as ek moet”, 13 persentasiepunte hoër as in 2000.
“Soveel as een derde van Europeërs sukkel selfs met laer vlak leesvaardighede.” Meer as een vyfde van volwassenes in die VSA “val in die kategorie ongeletterd/funksioneel ongeletterd”. Afsonderlik is post-pandemiese leestellings vir Amerikaanse 13-jariges die laagste in dekades. En die Washington-gebaseerde Sentrum vir Globale Ontwikkeling het onlangs beraam dat geletterdheid in Suid-Asië en Afrika suid van die Sahara onder diegene met vyf jaar skoolopleiding die afgelope halfeeu afgeneem het.
Mense wat leesvaardighede verloor, verloor ook denkvaardighede. Hulle behoefte aan eenvoud word bevredig deur politici wat “simplisme” aanbied, met ander woorde, die ideologie van eenvoudige antwoorde vir komplekse probleme. Simplisme word verkoop onder eufemismes soos “gesonde verstand”, “morele duidelikheid” en “om reguit te wees”. Dalk is dit tyd om weer ‘n boek of twee te lees.