UP Soogdier-navorsingsinstituut help boggelrugdolfyne bewaar

Die Walvis-eenheid van die Soogdier-navorsingsinstituut aan die Universiteit van Pretoria speel ‘n belangrike rol in ‘n nuwe wêreldwye netwerk wat op die bewaring van kwesbare boggelrugdolfyne in die Indiese Oseaan gerig is. Navorser, Shanan Atkins, koördineer die netwerk van 77 wetenskaplikes en natuurbewaarders vanuit 17 lande langs die westelike Indiese Oseaan en die Arabiese See. Hulle doen saam navorsing om positiewe bewaringsbesluite en -bedrywighede te ondersteun. Die netwerk is vanjaar tot stand gebring om bewaringsprojekte deur middel van samewerkende navorsing, die bevordering van bestuurspogings, asook gedeelde kundigheid te fasiliteer en te ondersteun.