Unicef sit noodtender uit vir M-pokke-entstof
Die Verenigde Nasies se Kinderfonds het in samewerking met die Gavi-entstofalliansie, die Afrika Sentrum vir Siektebeheer en die WGO ‘n noodtender uitgereik om entstowwe teen M-pokke vir krisis-geteisterde lande te bekom. Afhangende van die produksievermoë van vervaardigers, kan ooreenkomste vir tot 12 miljoen dosisse tot 2025 gemaak word het Unicef gesê. Dit sal Unicef in staat stel om entstowwe sonder versuim aan te koop en aan te stuur sodra finansiering, aanvraag, gereedheid en regulatoriese vereistes bevestig is. Meer as 18 000 vermeende gevalle van M-pokke is tot dusver vanjaar in die DRK aangemeld met 629 sterftes, terwyl meer as 150 gevalle in Burundi bevestig is.