Unicef sê dit gaan bedroef met Sudan se kinders

Die Verenigde Nasies het sy kommer uitgespreek oor die impak van die voortslepende oorlog in Sudan op kinders. Ondanks verskeie wapenstilstandverklarings duur gevegte in Khartoem voort en kinders beland al hoe meer in kruisvuur. Volgens die uitvoerende direkteur van die VN se Kinderagentskap, Unicef, Catherine Russell, is byna 200 kinders dood en sowat 1 700 beseer sedert die konflik in die middel van April uitgebreek het. Russell sê die aanvalle maak dit moeilik om hulp te verleen aan kinders wat in nood verkeer. Samesprekings vir, onder andere, ‘n humanitêre korridor, is tans in Jeddah in Saoedi-Arabië aan die gang.