Uitreiking van ID-sertifikate vir buitelandse gades gestaak
Die uitreik van artikel 38-sertifikate van identiteitsdokumente aan buitelandse gades van Namibiese burgers is tydelik gestaak. Die binnelandse sake-ministerie sê in ‘n verklaring die uitreik van die sertifikate is nie in ooreenstemming met afdeling 2(1)(c) van die Wet op Immigrasiebeheer van 1993 nie. Die tydelike opskorting vorm deel van ‘n deurlopende hersiening- en verbeteringsproses van die aansoekvorms vir hierdie dokumente. As tydelike maatreël moet almal wat bevestigingsbriewe vir spesifieke dienste benodig, die kantoor van die Hoof van Immigrasie nader. Die publiek sal ingelig word sodra die hersieningsoefening afgehandel is.