Uerikua soek waardetoevoeging in landbou

Otjozondjupa-goewerneur James Uerikua sê daar is ‘n dringende behoefte om veebemarking te heroorweeg. Hy sê die klem moet gelê word op waardetoevoeging om werkskepping en ekonomiese groei te bevorder. Hy sê die huidige praktyk van op-die-hoef-uitvoere van speenkalwers na Suid-Afrika ondermyn plaaslike werkskepping. Verlede jaar is amper 152 000 diere na die buurland uitgevoer. Om vee te behou en werk te skep, moet abattoir fasiliteite en ondersteuning van voerkraalbedrywighede verbeter. Namibiese beesvleis wat na Europa uitgevoer word is ook onverwerk.