Twyfelagtig of koalisie in SA bestendigheid sal bring

Politieke ontleders waarsku hoewel die idee van ‘n regering van nasionale eenheid in beginsel goed is, bring dit nie noodwendig bestendigheid nie. Die ANC beraadslaag tans met ander politieke partye wat in die Nasionale Vergadering verteenwoordig is, om sy voorstel oor so ‘n bedeling te bespreek en president Cyril Ramaphosa se herverkiesing te bewerkstellig. Die ontleder Ralph Mathekga sê dit beteken nie partye se verskille verdwyn as hulle instem tot ‘n regering van nasionale eenheid nie. Hy sê wat saak maak, is die kwessies waaroor hulle kan saamstem.