Twee vas vir Vernon Gavin moord

Die Erongo-polisie het twee verdagtes vasgetrek in verband met die moord en verkragting van die 53-jarige Vernon Gavin in Walvisbaai. Die twee, 20 en 25 jaar oud, is met Gavin se selfoon gevind. Hulle sal môre in die landdroshof op die kusdorp verskyn op klagte van verkragting en moord. Intussen het die mag verdere besonderhede oor die vreemde moordvoorval, wat op 30 Desember plaasgevind het, bekend gemaak. Dit wil voorkom asof daar gepoog is om Gavin te beroof. Die goedere wat in sy voertuig in die geslote motorhuis gevind is sluit in ‘n televisie, skootrekenaar, skoene, sy Telecom Fritzboks en bier in. Gavin is naak en vasgebind gevind, met ‘n waslap in sy mond, en is na bewering verwurg. ‘n Lykskouing sal gehou word.