Tunisië oorweeg hoër belasting op rykes om IMF-lening te kry

Tunisiese President Kais Saied sê ‘n hoër belasting op ryk mense kan ‘n alternatief wees vir moeilike maatskaplike hervormings – as ‘n manier om ‘n internasionale finansiële reddingspakket te verseker. Die regering het in Oktober ’n voorlopige ooreenkoms met die Internasionale Monetêre Fonds beding vir ’n lening van 1,9 miljard Amerikaanse dollar in ruil vir, onder andere, besnoeiings aan subsidies. Die IMF sê Tunisië moet sy finansies op ‘n meer volhoubare trajek plaas en het voorheen kommer uitgespreek oor die vlak van sy openbare loonrekening, subsidies, lae belastingbasis en ondersteuning vir nie-winsgewende maatskappye in staatsbesit.