Trump se dokumente-saak van die hand gewys
’n Amerikaanse regter het een van Donald Trump se kriminele sake van die hand gewys. Dit het hom ’n groot regsoorwinning besorg net ure voordat hy Ohio-senator JD Vance as sy adjunkpresident-kandidaat bekend gemaak het. Die besluit deur ‘n regter wat deur Trump aangestel is, kom twee dae nadat hy ‘n sluipmoordpoging oorleef het. Regter Aileen Cannon van die Amerikaanse distrikshof het beslis dat die aanklaer wat Trump van die wanhantering van geklassifiseerde dokumente aangekla het, onregmatig in sy rol aangestel is. Trump sal na verwagting Donderdag die party se benoeming formeel aanvaar om die Demokratiese president Joe Biden in die presidentsverkiesing uit te daag.