Trump ly nog regs-nederlae

’n Appèlregter in New York, Cynthia Kern, het Donald Trump se poging om sy verhoor volgende week op kriminele aanklagte te laat uitstel, van die hand gewys. Die saak spruit uit stilbly-geld wat aan die porno-ster Stormy Daniels betaal is. Die voormalige Amerikaanse president wou die saak laat uitstel terwyl hy teen ’n bevel van regter Juan Merchan appelleer waarvolgens hy nie verbale aanvalle op potensiële getuies, hofpersoneel en individuele aanklaers mag loods nie. Merchan het die bevel later uitgebrei om sy familielede en dié van Manhattan-distriksprokureur Alvin Bragg ook te dek, nadat Trump Merchan se dogter aanlyn afgekraak het. Trump het aangevoer dat sy reg op vrye spraak onherroeplik geskend is deur Merchan se bevel.