Trump en NY-aanklaer kom ooreen

Die voormalige Amerikaanse president, Donald Trump, sal sekere dokumente aan New York se prokureur-generaal oorhandig vir haar siviele ondersoek na sy sakepraktyke, maar hoef nie vrae onder eed te beantwoord terwyl hy ‘n regter se bevel appelleer dat hy moet getuig nie. Die verwikkelinge is deel van ’n ooreenkoms tussen die voormalige Amerikaanse president, sy oudste kinders Donald Trump Jr. en Ivanka Trump, en die prokureur-generaal Letitia James. Dit volg na ‘n uitspraak op 17 Februarie deur regter Arthur Engoron in Manhattan dat James dagvaardings vir die Trumps se getuienis en dokumente van Donald Trump kan afdwing. Die Trumps het op 28 Februarie appèl aangeteken.