Trump eers in September gevonnis in swyggeld-saak

Die gewese Amerikaanse president, Donald Trump, se vonnisoplegging in sy swyggeld-saak in New York is tot September uitgestel. Dit volg op Maandag se hooggeregshofbeslissing dat hy kwalifiseer vir algehele vrywaring van vervolging vir enige optrede tydens sy ampstermyn. Trump is die eerste Amerikaanse president wat suksesvol strafregtelik vervolg is toe ‘n jurie hom verlede maand skuldig bevind het aan al 34 klagte oor die vervalsing van dokumente om die uitslag van die 2016-presidentsverkiesing te beïnvloed. Hy sou aanvanklik reeds volgende Donderdag gevonnis word.