Tornado’s saai verwoesting in twee state in VSA

’n Hewige tornado het verwoesting in Little Rock, Arkansas en naburige dorpe gesaai. Minstens twee mense is dood en tientalle beseer toe die tornado dakke en mure van talle geboue afgewaai het, voertuie omgeslaan en bome en kragdrade afgeruk het. Ure later het nog ‘n tornado die dak van ‘n ouditorium in die noorde van Illinois oopgeskeur wat ‘n plafon laat ineenstort het, terwyl ‘n rockgroep op die verhoog opgetree het. Een persoon is dood en 28 beseerdes is per ambulans na hospitale vervoer, volgens Shawn Schadle, die brandweerhoof in Belvidere. Hy het gesê sowat 260 mense het die konsert van Morbid Angel by die stad se Apollo-teater bygewoon.