Toer-operateurs ruk op teen olie-eksplorasie by Mana Pools
Operateurs van safarikampe wat meer as 1 000 Amerikaanse dollar per nag vra, het besware ingedien teen ‘n beplande olie-eksplorasieprogram in Zimbabwe se voorste natuurlewegebied, Mana Pools. African Bush Camps, wat bestemmings regoor die buurland het, sê die toestaan van die permit aan Shalom Mining sal aardverwarming en verlies aan biodiversiteit vererger. Wilderness Safaris, wat drie kampe in Mana Pools bedryf, het ook beswaar aangeteken. Mana Pools lê op die suidelike oewer van die Zambezi-rivier wat dien as die grens tussen Zimbabwe en Zambië. Mana en omliggende gebied is deur die Verenigde Nasies se Unesco as ‘n Wêrelderfenisgebied aangewys.