Toenemende skeptisisme oor Gaetz se benoeming

Amerikaanse verkose president Donald Trump se genomineerde as prokureur-generaal, Matt Gaetz, word met toenemende skeptisisme deur sy mede-Republikeine in die kongres gekonfronteer. Senator John Cornyn, wat ‘n topposisie beklee op die komitee wat Gaetz se benoeming volgende jaar sal oorweeg, het gesê hy en ander wetgewers moet toegang kry tot die verslag deur die Huis van Verteenwoordigers Etiekkomitee, wat bewerings van seksuele wangedrag en onwettige dwelmgebruik teen Gaetz ondersoek het. ’n Prokureur wat ’n beweerde slagoffer verteenwoordig het ook gevra dat die verslag openbaar gemaak word. Gaetz het Woensdag uit sy setel in die Huis bedank, wat die ondersoek van die Etiekkomitee beëindig. Volgens verskeie nuusblaaie was die paneel van plan om die verslag vandag bekend te maak.