Tjommie-program bekendgestel om jeug te help

Die buurland se adjunk-minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Hendriette Bogopane-Zulu, in samewerking met die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling, USaid, het die tjommie-program in Manenberg, Kaapstad bekendgestel. Dit teiken tien- tot 14-jariges in ‘n gemeenskap wat deur bendegeweld en dwelmmisbruik geteister word. Die program is gemik op die vestiging van positiewe vriendskappe en wil die jeug motiveer om risiko-gedrag te laat vaar en maatskaplike kwessies soos afknouery te takel. Woordvoerder Lumka Oliphant sê die program beoog om MIV-besmettings, dwelmmisbruik en tienerswangerskappe te verminder deur kennis, vaardigheidsontwikkeling en jeugbemagtiging.