Tientalle dood in aanval op Oekraïense militêre opleidings-instelling
Een-en-veertig mense is dood in ‘n Russiese aanval op ‘n militêre opleidings-instelling in sentraal-Oekraïne en meer as 180 ander is gewond. President Volodymir Zelensky sê dit is een van die dodelikste enkele aanvalle sedert die begin van Moskou se volskaalse inval in Februarie 2022. Twee ballistiese missiele het vanoggend die perseel in die stad Poltava en ‘n nabygeleë hospitaal getref. Die owerhede het drie dae van rou afgekondig. Zelensky het sy beroep op Oekraïne se Westerse bondgenote herhaal om meer lugafweerstelsels aan die land te verskaf.