Tienduisende versper paaie in Israel in protes teen premier

Tienduisende mense het paaie regoor Israel versper nadat betogers onderneem het om hul protesoptrede te verskerp teen die eerste minister Benjamin Netanyahu en sy koalisieregering se pogings om die regstelsel te hervorm. Die parlement het Maandagaand voorlopig ‘n wetsontwerp goedgekeur wat die magte van die land se hoogste hof sal inperk. Die nuwe wetsontwerp beteken dat Israel se hoogste hof nie sekere regeringsbesluite ter syde sal kan stel indien dit as onredelik beskou word nie. Ander voorgestelde hervormings sluit in dat die regering meer mag sal hê oor die aanstelling van regters. Kritici voer egter aan dat die howe help om korrupsie en magsmisbruik te verhoed. Sowat 42 betogers is sover in hegtenis geneem.