Tiende jagluiperd in Indië dood

Nog ’n jagluiperd wat in Indië se Madhya Pradesh se Kuno Nasionale Park hervestig is, is dood. Shaurya, ‘n mannetjie van Namibië, is op 16 Januarie binne sy kamp dood, ondanks die feit dat hy vir “swakheid” behandel is. Dit is die tiende jagluiperd wat in Kuno sterf. Tot dusver is sewe volwassenes en drie welpies weens verskeie oorsake in die park dood. Shaurya, voorheen Freddie, vernoem na Freddie Mercury, was een van die agt jagluiperds wat in September 2022 van Namibië na Indië vervoer is saam met sy broer Gaurav, voorheen bekend as Elton, vernoem na Elton John. Die twee, wat ‘n koalisie gevorm het, was bekend as die Rockstars en was die eerstes wat in Maart verlede jaar in Kuno vrygelaat is.