Tien Gebooie verpligtend in Louisiana-klaskamers

Louisiana het die eerste Amerikaanse staat geword waar die Tien Gebooie volgens wet in elke openbare skool se klaskamer vertoon moet word. Die Republikeinse goewerneur Jeff Landry het die wet onderteken wat vereis dat ʼn plakkaat-grootte, maklik leesbare voorstelling van die godsdienstige riglyne in alle klaskamers, van kleuterskool tot staatsbefondsde openbare universiteite, vertoon word. Landry sê as ʼn mens die oppergesag van die reg wil respekteer, moet jy met die oorspronklike wetgewer begin – wat Moses was. Verskeie groepe het egter gesê hulle gaan die wetgewing in die hof teenstaan.