Teregstellings styg met 53% in 2022
Die aantal teregstellings wat wêreldwyd in 2022 aangeteken is, was die hoogste in vyf jaar. Volgens Amnesty International is 883 mense in 20 lande tereggestel, wat ‘n styging van 53 persent verteenwoordig, vergeleke met die vorige jaar. Iran, Saoedi-Arabië en Egipte het 90 persent van die teregstellings uitgevoer. Die syfers sluit China uit, wat vermoedelik duisende elke jaar teregstel. Amnesty sê dat teregstellings in Noord-Korea, Viëtnam, Sirië en Afghanistan uitgevoer is, maar daar is onvoldoende inligting om geloofwaardige minimumsyfers te verskaf. Luidens Amnesty se verslag was Iran en Saoedi-Arabië hoofsaaklik verantwoordelik vir die skerp toename in bekende teregstellings verlede jaar wêreldwyd.