Tennis: Top-posisie wink vir Alcaraz in Rome

Tennis: Die Spanjaard, Carlos Alcaraz hoef net vandag in Rome op die baan te stap om Maandag die eerste plek op die wêreld-ranglys by Novak Djokovic van Serwië oor te neem. Alcaraz speel teen sy landgenoot, Albert Ramos-Viñolas, in sy eerste wedstryd op die Italiaanse Ope. Alcaraz is tweede gekeur na Djokovic, die verdedigende kampioen, maar is reeds ʼn vroeë gunsteling vir die kleibaan Grand Slam-toernooi, die Franse Ope, wat later die maand in Parys begin − veral weens die verwagte afwesigheid van die 14-malige kampioen, Rafael Nadal, ook van Spanje.