Telecom, Sparkle span saam vir digitale transformasie

Telecom Namibia sal met Sparkle, ‘n toonaangewende wêreldwye diensverskaffer, saamspan vir die verkryging van kapasiteitsdienste op die Equiano-ondersese kabel wat Portugal met Suid-Afrika verbind, om Namibië se digitale transformasie-reis ’n hupstoot te gee. Dr. Stanley Shanapinda, Telecom Namibia se uitvoerende hoof, sê die strategiese alliansie beklemtoon hulle verbintenis om uitsonderlike verbindingsoplossings aan kliënte te lewer en Namibië se digitale transformasie te bevorder. Die Equiano-kabel se hoëspoed-, lae-latensie-verbinding sal volgens hom dien as ‘n katalisator vir innovasie en ekonomiese groei regoor die land. Die vennootskap bied ‘n hoë-kapasiteit roete vir data-oordrag en die verbetering van netwerkveerkragtigheid, wat ononderbroke dienskontinuïteit beloof in die geval van onderbrekings op die AT-3- en WACS-kabels.