Tekort aan lokomotiewe kelder TransNamib se passasiervervoer

TransNamib sê terwyl hy graag passasier-roetes weer wou instel, het hy kapasiteit-uitdagings met te min lokomotiewe om dit moontlik te maak. Die maatskappy het met groot sukses die somervakansie verskeie roetes vir passasiers aangebied. Woordvoerder, Abigail Raubenheimer sê dienste is tussen 9 Desember en 8 Januarie gelewer en die gewildste roete was tussen Walvisbaai en Oshikango in die Noorde. Agt dienste is in die tydperk aangebied. Daar was groot verligting vir talle Namibiërs wat net na Nuwe Jaar vasgekeer was in die Noorde met te min langafstand-taxi’s om hulle te vervoer. Baie het toe gebruik gemaak van TransNamib om terug te keer na die hoofstad. Volgens Raubenheimer is daar nie genoeg lokomotiewe nie en daar is uitdagings met die spoornetwerk wat gereeld skade opdoen, veral tydens die reënseisoen.