Teen die tempo, sal dit 3 jaar neem vir kudde-immuniteit

Ben Nangombe, die uitvoerende direkteur in die gesondheidsministerie sê as Namibië se Covid-inentingsopname teen die huidige stadige tempo voortduur, sal dit die land minstens drie jaar neem om kudde-immuniteit te bereik. Die Wêreldgesondheidsorganisasie poog om 70 persent van bevolkings teen die middel van die jaar in te ent terwyl die regering ‘n teiken van 60 persent teen einde Maart daargestel het. Teen middel Februarie was 20,7 persent van die teikenbevolking ten volle ingeënt. Daagliks word ongeveer 1 000 spuite toegedien. Nangombe sê net meer as 1,4 miljoen mense moet ingeënt word en met 1 000 spuite daagliks sal dit drie jaar neem. Volgens Nangombe is die grootste uitdaging wat die regering se pogings om kudde-immuniteit te bereik belemmer, die huiwering van entstowwe wat volgens hom deur waninligting aangevuur word.