Taxibestuurder verkrag glo agt-jarige leerder

‘n Taxibestuurder is op Ongwediva in hegtenis nadat hy na bewering ‘n agt-jarige leerder verkrag het. Hy is gekontrakteer om die meisie skool toe en terug te vervoer en het haar glo twee keer vandeesweek verkrag nadat hy haar by die skool opgelaai het. Die 35-jarige verdagte het glo op verskillende plekke gestop en die slagoffer in sy taxi tussen Ekuku en Ongwediva verkrag. Die kind se ma het opgemerk dat haar dogter nie behoorlik kon loop nie, en die kind het onthul dat die taxibestuurder haar verkrag het. Die Namibiese polisie versoek ouers om hul kinders goed te monitor.