Wes-Kaap ly verlies van R5 miljard met taxistaking
Die Wes-Kaapse LUR vir mobiliteit, Ricardo Mackenzie, sê die onlangse agt dae lange taxi-staking in die Wes-Kaap het gelei tot ‘n ekonomiese verlies vir die provinsie van nagenoeg vyf miljard Suid-Afrikaanse rand. Mackenzie en die minister van vervoer, Sindisiwe Chikunga, het voor die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer in Kaapstad verskyn om hulle in te lig oor die voorwaardes rakende die opskorting van die taxi-staking, en verdere planne. Stad Kaapstad is ook na die komiteesitting genooi, maar het verskoning gemaak omdat hy dit nie kon bywoon nie. Die metro het egter ‘n voorlegging by die komitee ingedien. Mackenzie sê buiten die provinsie se reuse- geldelike verlies, het die taxi-bedryf ook verliese gely van nagenoeg 16 miljoen rand per dag.