Sy grootste vrees het sy dood veroorsaak

Amou Haji het vir meer as ‘n halfeeu geweier om seep en water te gebruik, uit vrees dat dit hom siek sou maak.

Die Iraniër, wat in die suidelike provinsie Fars gewoon het, het vorige pogings deur dorpenaars om hom skoon te kry, vermy.

Maar, volgens plaaslike media, het Haji uiteindelik onder druk geswig en ‘n paar maande gelede gewas.

Volgens ‘n nuusagentskap in Iran het hy kort daarna siek geword en is kort daarna dood.

In ‘n vorige onderhoud, wat in 2014 aan die Tehran Times gegee is, het hy onthul sy gunsteling maaltyd was ystervark, en dat hy tussen ‘n gat in die grond en ‘n baksteenhut gewoon het wat deur besorgde bure in die dorpie Dejgah gebou is.

Hy het destyds gesê sy ongewone keuses was te danke aan “emosionele terugslae” toe hy jonger was.

Jare van nie bad nie het hom gelaat met ‘n vel bedek met “roet en etter”, terwyl sy dieet bestaan het uit vrot vleis en onhigiëniese water wat uit ‘n ou oliekan gedrink is.

Hy was ook lief daarvoor om te rook, en hy was by ten minste een geleentheid uitgebeeld terwyl hy meer as een sigaret op een slag aansteek.