Swapo het nie geld om kongres te hou, sê hofstukke

Die saak waarin vyf Swapo-lede die party dagvaar om ‘n kongres te hou om ‘n partyleier te kies, is weer in die nuus. Swapo se sekretaris-generaal, Sophia Shaningwa, het ‘n lywige beantwoordende verklaring in die saak ingedien waarin veral die eerste aansoeker in die saak, Reinhold Shipwikineni, as ‘n moeilikheidmaker uitgebeeld word. Shaningwa het ook gesê die party het nie die finansies om ‘n buitengewone kongres te hou nie, weens groot uitgawes wat aangegaan is vir die vorige kongres en die bou van die party se hoofkantoor. Sy het ook gesê daar is nie ‘n rede om ‘n kongres te hou nie, want Netumbo Nandi-Ndaitwah is reeds voor Hage Geingob se dood aangewys as die party se presidentskandidaat in die komende verkiesing.