Swakopmunders is boos
Meer as 1 200 inwoners van Swakopmund het reeds ‘n petisie onderteken om te verhoed dat ‘n bergingsfasiliteit vir radioaktiewe materiaal op die kusdorp opgerig word. Die nuus het aan die lig gekom met die publiek wat vir kommentaar gevra is oor ‘n omgewingsimpak-studie wat Geo Pollution Technologies wil uitvoer sowel as ‘n omgewingsbestuursplan wat opgetrek moet word. Die uiteindelike plan is om ‘n bogrondse fasiliteit te skep, sowel as ‘n toetsfasiliteit en laboratorium wat dienste aan die oliebedryf sal lewer. Die publiek het tot 8 Maart om kommentaar te lewer. Volgens die munisipaliteit moet inwoners rustig wees en verstaan dat dit net ‘n aansoek is vir ‘n impakstudie en dat daar tot op hede geen goedkeuring is vir die ontwikkeling nie.