Swakopmund burgemeesterskap saai onmin

Die uitslag van Swakopmund se burgemeestersverkiesing, waaring Dina Namubes van die IPC herkies is, het die Swakopmund Inwonersvereniging, of SRA, warm onder die kraag. Die vereniging sê die IPC het nie by hul koalisie-ooreenkoms gehou en die burgemeesterskap na die SRA oorgedra nie. Die vereniging het op sosiale media gesê die IPC wil vasklou aan mag en die burgemeestersposisie behou. Volgens die ooreenkoms sou die posisie tussen die IPC, die SRA en die LPM oor ‘n tydperk van vyf jaar gedeel word, maar die IPC het die afgelope drie jaar die posisie behou. Die plasing sê dit laat die SRA met ‘n groot vraag oor die mate waarin hy op enige kontraktuele ondernemings kan staatmaak. Die vereniging sê hy is egter steeds bereid om met partye saam te werk om te verseker die munisipaliteit word effektief bestuur.