Swakara krimp met amper 74% in 2022
Die Namibiese Landbou-unie sê gemiddeld toon die totale landbouproduksiewaardes positiewe groei van 18.3 persent gedurende 2022 met die meeste groei wat by koring en witmielies, 54,2 persent, skape op 37,4 persent en druiwe op 34,5 persent aangeteken is. Maar, dit het nie goed gegaan met Swakara nie. Produksiewaardes toon ‘n inkrimping van 73,9 persent wat veroorsaak is deur ’n afname in die pelsbedryf wat deur die pandemie veroorsaak is. Die uitdagings in die pelsbedryf is versnel deur toenemende kommer oor dierewelsyn en ’n verskuiwing na wat as meer etiese en volhoubare modekeuses beskou word. Dit is bykomend tot die vermindering in verbruikersbesteding. Hierdie faktore het gelei tot ‘n afname in die vraag na pels oor die algemeen en ’n verlaging in pryse, wat finansiële probleme vir produsente en belanghebbendes in die bedryf veroorsaak het.