Suid-Korea ontruim duisende tieners by Wêreld-padvinderskamp weens tifoonAugust 8, 2023
Suid-Korea het begin om duisende tieners by die Wêreldpadvinder-saamtrek in die suidweste van die land na veiligheid te neem, terwyl die tifoon Khanun na die gebied onderweg is. Die sowat 36 000 tieners word van die kampterrein na veiliger gebiede rondom die hoofstad Seoul verskuif. Dit is die jongste terugslag vir die tien daagse saamtrek wat deur jongmense van meer as 150 lande bygewoon word. Amerika en Brittanje het die naweek aan die saamtrek onttrek nadat honderde jongmense vir hitte-verwante toestande behandel moes word. Daar was ook klagtes oor onder meer gebrekkige sanitasiegeriewe. Die tifoon Khanun het reeds groot skade in die suide van Japan aangerig en sal na verwagting Donderdag die suide van Suid-Korea tref. Japan het vandag weer honderde vlugte gekanselleer en sowat 60 000 mense opdrag gegee om hul huise te ontruim.