Suid-Afrikaners breek rekord vir vinnigste hommeltuig

’n Pa en sy seun van Suid-Afrika het die wêreld se vinnigste hommeltuig gebou, met ’n gemiddelde topspoed van 480km/uur.

Luke Bell en sy pa, Mike, van die Wes-Kaap, het die quadcopter Peregreen 2 gedoop na ‘n vroeëre model wat 398km/uur bereik het, het Guinness World Records berig.

Die hommeltuig bestaan uit 3D-gedrukte koolstofvesel, hy is battery-aangedrewe en werk met ‘n afstandbeheer. Die twee het by die lugvaartingenieur, Chris Rosser, aangeklop vir hulp. Om die rekord op te stel, het hulle die hommeltuig in twee afsonderlike toetslopies in teenoorgestelde rigtings laat vlieg, wat sy vermoë demonstreer om wind-op of -af te vlieg. Hulle het ‘n werklike topspoed van 510km/uur bereik en ‘n gemiddelde topspoed van 480km/uur.

Mike Bell is ‘n argitek wat die Mbombela-stadion ontwerp het, waar die 2010 FIFA Wêreldbeker plaasgevind het. Sy seun is ‘n inhoudskepper en ambassadeur by Sony, wat spesialiseer in resensies van hommeltuie en kameras op YouTube en Instagram.

Foto: Good Things Guy