Strafhof ondersoek blykbaar sy hoofaanklaer Khan
Die beheerliggaam van die Internasionale Strafhof sal ‘n eksterne ondersoek van stapel stuur na sy hoofaanklaer Karim Khan oor beweerde seksuele wangedrag. Reuters berig Khan word in ‘n interne dokument wat aan lidlande gesirkuleer is, versoek om tydelik uit sy rol by die wêreld se permanente oorlogsmisdaadhof, gesetel in Den Haag, te bedank terwyl ‘n ondersoek aan die gang is. Die ongedateerde en ongetekende dokument, wat deur Reuters gesien is, is deur ICC-personeel aan lidlande gesirkuleer. Khan het bewerings van wangedrag wat verlede maand by die hof se beheerliggaam aangemeld is, ontken. Hy het destyds die hof se eie interne oorsigliggaam gevra om hulle te ondersoek.