Stel opvolgplanne in werking, bevelvoerders: Shikongo

Die inspekteur-generaal van die Namibiese polisiemag, luitenant-generaal Joseph Shikongo, versoek bevelvoerders om opvolgplanne in plek te stel om ‘n gladde oorgang na hul aftrede te verseker. Hy is ontevrede oor sommige senior polisiebeamptes wat nie potensiële opvolgers identifiseer nie, maar eerder ‘n verlenging van hul diens versoek, soms om ‘n huis of voertuig klaar af te betaal. Shikongo het gepraat tydens die tweede fase van die polisie se massabevordering by die Israel Patrick Iyambo Polisiekollege in Windhoek. Shikongo het 911 offisiere na verskeie range bevorder, onder meer hoofinspekteurs, adjudant-offisiere en sersante. Uit dié wat bevorder is, is 421 vroulik, wat 46 persent verteenwoordig.