Stel ‘geskikte mense aan op openbare ondernemings se direksies’

Die voorsitter van die forum vir hoof uitvoerende beamptes van openbare ondernemings, Fluksman Samuel, het weer die swak werksverhouding tussen die uitvoerende beamptes en direksies van openbare ondernemings betreur. Hy het by die tweede openbare ondernemings-konferensie gesê die regering, die direksie en die uitvoerende bestuur moet saamwerk om ‘n professionele en hartlike werksverhouding te verseker, sodat die ondernemings hul mandaat kan verwesenlik. Samuel doen ook ‘n beroep op die regering om “manne en vroue van substansie” aan te stel wat “geskik en gepas” is in die direksies. Finansminister Ipumbi Shiimi sê hulle het begin om die werwingsproses te versterk om die beste talent op die direksies van openbare ondernemings te kry, en voeg by die ministerie is besig om kapasiteit te bou.