Steinhoff-hoof moes swaarder straf gekry het

Cosatu het die skuldigbevinding en vonnisoplegging van die voormalige finansiële hoof van Steinhoff, Ben la Grange, verwelkom. Hy is tot tien jaar tronkstraf gevonnis waarvan vyf jaar opgeskort is na hy skuldig gepleit het op ‘n aanklag van bedrog van meer as 300 miljoen Suid-Afrikaanse rand. Hy is die tweede persoon wat in die Steinhoff-skandaal vervolg is, na die arrestasie van die Gerhardus Burger. Matthew Parks van Cosatu sê La Grange se vonnis moes swaarder gewees het vir een van die grootste finansiële misdade in die Suid-Afrikaanse geskiedenis.