Staatsbegrafnis belangrikste gebeurtenis sedert onafhanklikheid

Namibië hou sy asem op vir die belangrikste nasionale gebeurtenis sedert onafhanklikheid in 1990. Wyle president Hage Geingob word vanoggend met ‘n staatsbegrafnis in die Helde-akker aan die suidelike buitewyke van Windhoek begrawe. Na afloop van die roudiens gister in die Onafhanklikheid-stadion, het Geingob se liggaam oornag in staatsie gelê, waar duisende Namibiërs hul laaste eer betoon het. Met 27 buitelandse afvaardigings wat 18 staats- en regeringshoofde insluit, sal die verkeer op sekere hoofweë in die suide van die hoofstad tydelik ontwrig wees. Inwoners van Kleine Kuppe, Suiderhof en omliggende areas moet alternatiewe roetes beplan na ander dele van die stad. Die begrafnis is geskeduleer om 10-uur te begin en om 12-uur klaar te maak, maar vertragings kan verwag word.