Staatlose mense bly in die nuus

Staatlose mense in Namibië was onlangs in die nuus. Nou volg berigte dat daar gemeenskappe is wat reeds 20 jaar in Namibië woonagtig is en steeds geen dokumente het nie. Een so ‘n gemeenskap is die Ovazemba-gemeenskap aan die buitewyke van Opuwo in die Kunene-streek. Lede van dié groep het tydens die burgeroorlog in Angola gevlug en daar is deur geskiedkundiges bepaal dat hulle afstammelinge van die San en Ovaherero is. Die groep poog om ‘n bestaan te voer maar met herhaalde droogtes voer hulle ‘n nomadiese leefstyl. Diegene wat in die land gebore is, het ook nie geboortesertifikate gekry nie, en dit het daartoe gelei dat nie een van die minderjariges skool bywoon nie. Die woordvoerder van die ministerie van binnelandse sake Margaret Kalo het onlangs staatlose moeders aangemoedig om hul kinders by enige staatshospitaal landwyd te registreer maar die vroue in die gemeenskap sê hulle is deur die betrokke owerhede weggewys.